- Welkom k9-eenheid vang ‘n Cat-handelaar in Dagbreek
- Verskeie dwelms is op beslag gelê
- Die voertuig het Gauteng registrasienommers gehad
________________________________________________________________________________________________________________
’n Dwelmhandelaar wat CAT in die strate van Welkom gesmous het, is Vrydag deur die Welkom polisie in hegtenis geneem.
Die K9-eenheid in samewerking met die teen-narkotika-span het Donderdag 19 Oktober inligting oor dwelmverwante bedrywighede opgevolg.
“Hulle het ’n man in ’n wit VW Jetta met ’n Gautengse registrasienommers vasgevat waar hy besig was om dwelms af te lewer,” sê kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder vir die Vrystaat.
Die voertuig is in Constantiaweg, Dagbreek, opgemerk en van die pad afgedryf.
Polisielede het die voertuig deursoek en daar is beslag gelê op dwelms soos CAT. Die 38-jarige verdagte is vir die besit en handel in dwelms in hegtenis geneem.
- Volgens kundiges is CAT een van die mees misbruikte dwelms in Suid-Afrika. Metkatinoon (ook bekend as mephedrone) is ’n verslawende psigo-aktiewe middel, en die misbruik van hierdie middel neem vinnig toe in Suid-Afrika. Die algemene straatnaam vir Methcathinone is ‘CAT’, en die gebruik daarvan word meestal geassosieer met die nagklub- en rave-kultuur. Daar is geen mediese of farmaseutiese gebruik vir hierdie dwelm nie en dit word hoofsaaklik in onwettige ‘Cat labs’ vir ontspanningsdoeleindes vervaardig. Volgens berigte was daar sedert 2010 ’n toename in die gebruik van dié dwelm.
- Dit word dikwels gebruik as ’n plaasvervanger vir ander stimulante soos kokaïen en ecstasy-tablette.
- CAT moet nie verwar word met die Khat-plant nie, waarvan die blare gekou word as ’n sentrale senuweestelselstimulant. –Cross Roads Recovery Centre