Danel Ferreira (3) is ’n nuwe lid van die Protea-volkspelelaer, asook die jongste spelende lid.
“Danel kom al die afgelope drie jaar elke oefenaand saam met haar ma, Anrie Ferreira, en is uiteindelik oud genoeg om saam met die senior spelers in die kring te oefen,” sê Ollie Olivier, Protea-volkspelelaer-leier.
“Die oorgrote meerderheid van ons jeug weet nie van volkspele, wat op 28 Februarie reeds 108 jaar bestaan het nie, en ook nie dat dit deel van ons Afrikaner-kultuur is nie.”
Hy sê volkspele is moontlik die enigste sportsoort waaraan oud en jonk gesamentlik deelneem.
Elke laer in die land hou een maal per jaar ’n saamtrek, waarvoor volkspelers dan van heinde en ver byeenkom om saam te speel.
“Ongelukkig woon die publiek nie oefen-aande en saamtrekke as toeskouers by nie, hoewel toegang en verversings teen minimale pryse beskikbaar gestel word.
“Ons tree ook van tyd tot tyd by ouetehuise op waar die geriewe dit toelaat,” sê Olivier.
Die Protea-volkspelelaer oefen elke Dinsdagaand in die NG Moedergemeente Welkom se saal.
Die Ribbok-juniorlaer oefen Vrydagmiddae in Riebeeckstad.
Die Protea-volkspelelaer se saamtrek vind op 7 Maart plaas.
Bel Olivier by 082-775-6420 of Anita Pieterse, leier van die Ribbok-juniorlaer, by 079-923-8701 vir meer inligting.