Sewe lede van die Protea-volkspelelaer het aan die jaarlikse Volkspele-marathon in die saal van Dankbaar CVO Skool in Bloemfontein deelgeneem.
Die 20 uur-uitdaging is op 5 en 6 Augustus gehou, en is deur die Vrystaat-streek gereël.
“Alle junior spelers, 12 jaar en jonger, word verplig om tydens die uitdaging twee uur lank te gaan slaap,” sê Ollie Olivier, leier van die Protea-volkspelelaer.
“Rachel Pretorius, ’n nuwe lid aan die Protea-volkspelelaer, het ná haar eerste oefenaand besluit om die marathon aan te pak, wat sy wel suksesvol voltooi het.”
Belangstellendes is welkom om enige oefenaand as ’n toeskouer of voornemende speler by te woon.
“Indien u musikaal is en daarin belang stel om as begeleier deel te neem, is u ook meer as welkom om ons te kontak of te besoek.
“Ons doen ook, wanneer ons kan en op uitnodiging, optredes,” sê Olivier.
Die Protea-volkspelelaer oefen elke Dinsdagaand om 19:00 in die kerksaal van die NG Moedergemeente, op die hoek van Arrarat- en Staatsweg.
Navrae kan gerig word aan Olivier by 082-775-6420 (ná 14:00) of Lizane Oosthuizen by 082-378-4700.