Drie junior volkspelers van die Protea-volkspelelaer in Welkom het die Vrystaat op die Pellissierweek in Brandfort verteenwoordig.
Dié byeenkoms is van 11 tot 15 Julie gehou.
Bianca en Bea Pieterse, asook Rouise Möller, het gekwalifiseer om hul laer, en ook die Vrystaat, hier te verteenwoordig.
Daar is gedurende die week op spel en sang gekonsentreer.
Die spelers is voorberei vir ’n optrede op die Vrydag in die Preller-sentrum, Bloemfontein, en ’n optrede ter afsluiting van die week in die PPK se saal in Rooiwalsingel in die stad.
Ollie Olivier, leier van die Protea-volkspelerlaer, sê belangstellendes word genooi om enige oefen-aand as ’n toeskouer of voornemende speler by te woon.
“Indien u musikaal is en belang stel om as begeleier deel te neem, is u ook meer as welkom om ons te kontak of te besoek. Ons doen ook, wanneer ons kan en op uitnodiging, optredes,” sê Olivier.
Die Protea-volkspelelaer oefen elke Dinsdagaand om 19:00 in die kerksaal van die NG Moedergemeente, op die hoek van Arraratweg en Stateway.
Belangstellendes kan Olivier by 082-775-6420 of Lizane Oosthuizen (ná 14:00) by 082-378-4700 kontak.