Jong joernaliste slyp hul vaardighede

Altesaam 42 ontluikende joernaliste van die Goudveld-Hoërskool en Hoër Volkskool Potchefstroom het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Skolekoerant-slypskool bygewoon.


Altesaam 42 ontluikende joernaliste van die Goudveld-Hoërskool en Hoër Volkskool Potchefstroom het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Skolekoerant-slypskool bygewoon.

Tydens dié geleentheid het die joernaliste Charles Smith en Marti Will, fotograaf Chris Nel en grafiese ontwerper Hilde Kruger hul kennis en ervaring oorgedra.

Die Goudveld-Hoërskool begin eersdaags sy eie skoolkoerant.

Matthew Delport (16) van die Goudveld-Hoërskool sê hy het baie oor onderhoudvoering geleer. Thando Venge (13), ook van die Goudveld-Hoërskool, het die lesing oor fotografie geniet en sien uit om haar nuutgevonde kennis met haar ma te deel.

“Moenie die nuus word nie – jy moet die nuus vasvang,” het Nel vir die leerlinge gesê.

Kruger, bemarker en grafiese ontwerper by die Voortrekkermonument, het die leerlinge touwys gemaak oor die uitleg van ’n koerant.

“Dit was vir my ’n voorreg om ’n nuwe wêreld van tipografie en bladuitleg aan leerlinge bloot te stel en hulle te wys watter invloed dit op enige boodskap kan hê,” sê Kruger.

Tomrich Steenkamp (16) van die Hoër Volkskool Potchefstroom skryf hoof­berigte vir sy skoolkoerant Veritas.

“Ek het baie geleer, soos hoe om te skryf voordat ek die hoofberig begin skryf. Ek het geleer wat ’n mens kan en nie kan doen nie.”

Marti Will van Vista het ook haar wysheid gedeel.

“Maak seker jy het genoeg bronne. Dit maak dit altyd vir jou veiliger, want jou naam gaan by die storie staan.” – Marné Scholtz, mediabeampte vir die FAK

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.