’n Dokterspraktyk by College Square het nie net die afgelope drie jaar ’n goeie bydrae tot Engo se jeugsorgsentrums gelewer nie – mure vol kunswerke wat oor jare heen ten bate van Engo aangeskaf is, kikker ook pasiënte se dag op.
Yvette Pretorius, praktykbestuurder van die EXP Mediese Sentrum in Bloemfontein, sê sy het drie jaar gelede die eerste vier kunswerke op die veiling gekoop wat as deel van Engo se Meesterstuk-konsert aangebied word.
Kinders van verskeie Engo-jeugsorgsentrums skilder kunswerke wat jaarliks op dié geselligheid in Mei opgeveil word.
“Verlede jaar was ’n wilde jaar,” sê Yvette. “Ons het die vorige jaar met die muur begin, en dit was so lekker om nog prentjies vir ons Engo-muur te koop.”
By elke kunswerk word die boodskap van die jong kunstenaar, oorspronklik en vir die koper, vertoon sodat besoekers aan die praktyk die hele storie kan kry.
Dit wat die kunswerke uitbeeld, wissel van ’n portret van Jan van Riebeek wat ’n sjokolade-melkie drink, tot prente van skoenlappers en olifante.
Marinique du Plessis, maatskaplike werker by Engo, sê toe sy van die Engo-muur hoor, moes sy net gaan inloer.
“Dit is wonderlik om te sien hoe geesdriftig die dokters en Yvette by dié praktyk oor ons Meesterstuk-kunswerke is,” sê sy.