Ken jou vyand, maar moenie by hom gaan kuier nie.
In Efesiërs 6:12 lees ons dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat oor die sondige wêreld heers.
Ek is geen duiweljagter nie, en nog minder is dit my werk om oorlog teen die duiwel te maak. Dit het Jesus Christus aan die kruis reeds gedoen. Met sy opstanding uit die dood is oorwinning oor die duiwel behaal.
Ons werk is nie om teen Satan te veg nie, maar om sy modus operandi te ken en daarvoor uit te kyk.
In 1 Petrus 5:8 waarsku Petrus dat die duiwel soos ’n brullende leeu rondloop en soek na wie hy kan verslind.
Daarom moet ons sy manier van doen ken.
As die duiwel soos ’n brullende leeu rondloop, sien ons hom nie so nie. Hy vermom homself as wolf in skaapklere.
Die duiwel is mal daaroor om ons vreugde te steel en ons in ons skuldgevoelens gevange te hou – en dit oor goed waarvoor Jesus ons al lankal vergewe het.
Ons is moedeloos, kwaad en verbitterd – selfs haatdraend – teenoor alles en almal wat swak dienste lewer, misdaad pleeg en korrupsie toelaat.
Dit steel ons vreugde en los ons magteloos. Ons vrede maak plek vir woede en nog ander ondenkbare emosies. Tog is ons stryd nie teen vlees en bloed nie.
Het jy al daaraan gedink dat mense net pionne in die duiwel se hand is?
As Petrus in Jesus se pad staan, spreek Jesus hom aan: Gee pad, Satan.
Hoeveel te meer kan dit nie ook ek en jy wees wat na die duiwel se hand speel nie?
Ek dink ons gebedslewe moet juis van wraak na liefde skuif.
Sien raak dat die duiwel ons lewensomstandighede gebruik om ons hoop en liefde en geloof te steel.
Ja, dit gaan sleg. Niks is altyd lekker of eenvoudig nie. Maar as jy raaksien dat die duiwel hier ’n hand in die pie het, kan ons ophou om vreugdeloos en verlam te sit en toekyk.
- Sien raak as die duiwel sy bose planne smee, maar weet ook dat God in Christus Jesus die duiwel klaar oorwin het en jy in daardie oorwinning deel. Ds. Christo Nel is leraar aan die NG Moedergemeente Riebeeckstad.