Die toestande waarin die inwoners van Phomolong by Winburg moet leef sal vervat word in ’n verslag wat vir die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie saamgestel word.Foto: Verskaf


Om gesinne soos vullis in oop ruimtes te stort is ’n ernstige menseregteskending.

Mense van Uitbreiding 5 Phomolong by Winburg is voor die 2021 plaaslike regeringsverkiesing met leë beloftes van huise en basiese dienste toegeken.

Tot op hede sit hierdie gesinne steeds sonder water, elektrisiteit, huise of paaie.

Inwoners, in sinkhuise, word gedwing om in emmers te ontlas, wat dan leeg gemaak word in landerye waar hul kinders speel.

Hulle het geen elektrisiteit nie en moet bedel vir water by ander inwoners in Winburg wat self sporadiese watervoorrade van die Masilonyana-munisipaliteit ontvang.

“Die menseregte vergrype van inwoners van Phomolong is soortgelyk aan baie ander oor die Vrystaat heen,” het Roy Jankielsohn, DA Vrystaatse premierskandidaat, tydens ’n besoek aan Winburg gesê.

In antwoord op die vraag deur die DA in die Vrystaatse Wetgewer, het die LUR vir Samewerkende Regering, Tradisionele Sake en Menslike Nedersettings, het Ketso Makume, aangedui dat ’n sakeplan goedgekeur is met geotegniese assesserings aan die gang en ’n diensverskaffer is aangestel.

Makume het ook aangedui dat die departement van minerale en energie die elektrifisering van 540 erwe goedgekeur het.

“Inwoners word egter van hul waardigheid gestroop en leef sonder basiese dienste in wat as ’n rampgebied geklassifiseer behoort te word,” sê Jankielsohn.

Hy sê die toestande waarin die inwoners van Phomolong moet leef sal vervat word in ’n verslag wat vir die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie saamgestel word.

You need to be Logged In to leave a comment.