ODENDAALSRUS – Die Matjhabeng-munisipaliteit moet verantwoordelik gehou word vir die kragonderbrekings wat groot dele van Odendaalsrus vir tot sewe dae sonder elektrisiteit gelaat het.
Só meen raadslid Estelle Dansey, en sê die DA in Matjhabeng sal formele vrae in die Raad stel.
“Die inwoners van Odendaalsrus is weer letterlik in die donker gelaat toe spesifieke gebiede, veral Blok A, kragonderbrekings van tot sewe dae lank verduur het. Ons is diep verontrus oor die munisipaliteit se stadige reaksie, swak beplanning, en voortdurende verwaarlosing van dorpe buite Welkom.”
Die aanvanklike onderbreking het uit kabeldiefstal voortgespruit, tog is die polsmasjien wat nodig was om die fout op te spoor eers die volgende dag na Odendaalsrus gestuur. Die vertraging is deel van ‘n kommerwekkende patroon waar buiteliggende dorpe konsekwent gedwing word om te wag, terwyl Welkom die munisipaliteit se duidelike prioriteit bly, meen die DA.

Onderdele en kundigheid bevraagteken
Nadat die fout uiteindelik opgespoor is, het die munisipaliteit ‘n tekort aan materiale genoem, wat ernstige bekommernis wek oor die gebrek aan behoorlike vooruitskatting en noodplanbeplanning.
“Indien diefstal die stad verhinder om voldoende voorraadvlakke te handhaaf, bevraagteken die DA die sekuriteitsmaatreëls, aankoopstelsels en personeelvaardighede wat beskikbaar is om belangrike infrastruktuur te beskerm en te bestuur.”
Hoewel sommige kabels ná drie dae vervang is, het inwoners in Blok A langer as ‘n week sonder krag gebly.
Dit volg op ‘n langdurige onderbreking waarna die munisipaliteit beloof het om lugkabels aan te bring.
LEES OOK: Suid-Afrika oorskry 100 dae van beurtkrag in 2022
Die vrae
Die DA vra daarom ‘n dringende aksieplan wat die volgende uiteensit:
■ Die presiese tydlyn vir die voltooiing van die beloofde lugkabel-projek.
■ Die redes vir die munisipaliteit se voortdurende versuim om ‘n voldoende voorraad van noodsaaklike elektriese materiale te handhaaf.
“Matjhabeng-inwoners verdien gelyke toegang tot betroubare dienslewering, nie tweede-klas behandeling omdat hulle buite Welkom woon nie,” sê Dansey.





You must be logged in to post a comment.