Die seun staan tereg op aanklag van verkragting.

Credit: Getty Images

Twee gruwelike verkragtings van klein kinders binne twee dae het inwoners van twee nedersettings in Matjhabeng geruk.

Op Woensdag 7 Desember het die inwoners van Hani Park, Bronville, ’n 16-jarige seun aangeval en erg aangerand wat hulle daarvan verdink het dat hy ’n sesjarige meisie verkrag het.

“Die verdagte is onder polisiebewaking in een van die hospitale in Matjhabeng,” sê kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die Lejweleputswa-polisie.

Die seun staan tereg op aanklag van verkragting.

“Inwoners word streng gewaarsku om nie die reg in eie hande te neem nie, maar om mense te oorhandig wat vermoedelik by kriminele aktiwiteite betrokke is sodat ’n behoorlike ondersoek gedoen kan word, en die vermeende oortreder dan voor ’n geregshof gebring kan word. ” sê Thakeng.

In ’n tweede voorval op 8 Desember het ’n 16-jarige na bewering ’n 7-jarige seun in ’n begraafplaas in Phomolong verkrag.

Die ma van die slagoffer was op soek na haar seun en het kinders wat buite gespeel het, gevra waar hy moontlik kon wees. Een van hulle het haar meegedeel dat ’n verkragting plaasgevind het.

Die 16-jarige seun is deur die slagoffer uitgewys en hy is in hegtenis geneem.

“Hy sal as ’n minderjarige aangekla en behandel word, en sal dan ook mettertyd in die Hennenman-landdroshof verskyn,” sê Thakeng.

You need to be Logged In to leave a comment.