Dawid Vermeulen, Mosselbaai:
Antoinette Schoeman se brief in Vista van 23 Junie het my gedagtes met nostalgie ver teruggeneem na Welkom se vervloë dae van glorie waarvan ek deel kon wees.
Ná matriek by die Gimnasium-Hoërskool in 1960 en voltooiing van my studie in Siviele Ingenieurswese by Tukkies is ek vir 21 jaar na Suid-Wes Afrika om in 1989 terug te keer na Welkom as Direkteur Ingenieursienste. Met die skrif toe reeds aan die muur vir die goudmynbedryf, het ek nagte wakker gelê oor die langtermyn toekoms van Welkom.
Op 26 Februarie 1992 word die Vrystaatse Goudveld Ontwikkelingsentrum (VGVOS) as ’n Artikel 21-nutsmaatskappy sonder winsbejag geregistreer om Welkom van ondergang te red deur vaste kapitaalbeleggings na die Goudveld te lok met aantreklike innoverende aansporings.
Die werk vorder uitermate goed en wek wêreldwye belangstelling met tientalle afvaardigings wat Welkom besoek om beleggingsmoontlikhede te ondersoek.
Ongeveer twee jaar later in April 1994 plaas Ace Magashule in sy hoedanigheid as LUR vir Ekonomiese Sake van die Vrystaat ’n moratorium op die VGVOS se werksaamhede en slaan daarmee die eerste spyker in die doodskis van Welkom.
Die res is geskiedenis en die haglike toestand van Matjabeng en rampsalige prestasies van die Vrystaat sy tragiese nalatenskap.
Die oplossing lê in begeesterde mense wat uit die as en riool opstaan om in ’n groot poging van verantwoordelike aktiewe burgerskap te begin eienaarskap neem van Matjhabeng.
Niemand gaan Matjhabeng te hulp snel nie en die skep van ’n positiewe toekomsverwagting is in die hande van die stad se mense self.
Op 80 is ek steeds bereid om te help.