Inwoners bekommerd oor kinders in dié buurt

Dit is met woede en teleurstelling dat ek die brief skryf. Ons bly teen ’n bekende Hoërskool in Riebeeckstad. Vir jare al moet ons toekyk hoe leerlinge papiere, bottels en ander gemors op die sypaadjies gooi. Ons praat mooi met hulle om dit nie te doen nie, maar hulle ignoreer ons. Van hulle het geen…


Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:

Dit is met woede en teleurstelling dat ek die brief skryf.

Ons bly teen ’n bekende Hoërskool in Riebeeckstad. Vir jare al moet ons toekyk hoe leerlinge papiere, bottels en ander gemors op die sypaadjies gooi. Ons praat mooi met hulle om dit nie te doen nie, maar hulle ignoreer ons. Van hulle het geen respek nie.

Wanneer die skool in die middag uitkom, loop hulle die pad vol en toon geen respek vir ons as inwoners nie.

Jy as bestuurder van ’n voertuig moet vir hulle uitswaai, want hulle loop in die middel van die teerpad.

Ek moes vandag vir ses leerlinge uitswaai en het amper myself beseer deur op die sypaadjie teen ’n erf se sementmuur te lande te kom.

Ons probeer om ons omgewing netjies en skoon te hou en ons doen dit ook vir die skool.

Elke oggend moet ek my sypaadjie skoonmaak, want hulle gooi die plastiese yssakkies en skyfiepapiere en bottels daar.

Soos ek al voorheen geskryf het, word daar Vrydae-middae op die hoek van die straat partytjie gehou. Skoolkinders drink openlik alkohol, lawaai en speel musiek kliphard.

Ek ruik die dagga wat in die lug hang. Ek kan nie glo dat ouers hul kinders toelaat om te doen wat hulle wil nie.

Hierdie skool het sekerlik die mees inspirerende leuse: “Ons gee om”.

Miskien moet hulle dit net weer lees en vir ons as inwoners toon dat hulle wel omgee.

Ek is lief vir kinders en gee met ’n oop hand waar ’n behoefte is.

Ek smeek die leerlinge om ons strate skoon te hou en nie die teerpad te versper nie. Ek versoek ook die ouers om by die huis hul kinders op te voed sodat hulle respek kan uitdra na ander, veral ons bejaardes.

Ek sal ook graag wil sien dat ons verkeersafdeling en die polisie sigbaar kan wees wanneer skole in die middag sluit. Hulle kan toesien dat die leerlinge nie die paaie versper nie.

Ek kraak niemand af nie, dit is nie my modus operandi nie. Ek lewer net gesonde kritiek en ek glo en vertrou dat hierdie kinders hard gaan probeer om ’n groot verskil te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.