’n Teleurgestelde inwoner, Riebeeck­stad:

Ek woon al 34 jaar rustig in my huis in Riebeeckstad. Ongeveer ’n maand gelede het ek egter nuwe bure gekry, en daar is ons rus toe op ’n einde.

Die nuwe bure hou elke naweek partytjie. Dit gaan jolig met harde musiek en ’n groot geraas, maar tot nou toe nog heel leefbaar.

Op 4 Februarie om 10:00 het alle hel egter losgebreek. Die motors staan rond en bont geparkeer in die straat, groot luidsprekers is uitgedra en die harde musiek begin.

Teen 02:00 was dit so hard dat ek nie kon slaap in my slaapkamer naaste aan die grens tussen my en die bure nie. Om 05:00 Saterdagoggend word die luidsprekers op die voorstoep uitgedra en gaan alles vrolik verder.

Teen die middag soek ek raad by ons buurtwaggroep hoe om die situasie op die regte manier op te los. Hulle kan my nie help nie en beveel aan dat ek ’n klag van rusverstoring by die polisie indien. Ek besluit om dit nog ’n bietjie kans te gee, maar teen 22:00 die aand, tydens beurtkrag, het ek tog besluit om die polisie se hulp in te roep.

Die telefoonnommer wat ek gekry het, bestaan toe nie, dus het ek na ons gemeenskapspolisiekantoor gegaan. Gelukkig het ek geweet waar dit is, aangesien daar geen sigbare naambord tydens beurtkrag is nie. Hulle kon my glad nie help nie, nie eens met ’n telefoonnommer om die polisiekantoor in Welkom te skakel nie.

Hulle het geen kennisgewing met noodnommers van ander instansies en ook geen radiokontak met iemand wat in só ’n situasie kan help nie. Ek moes dus na die dorp se polisiekantoor gaan.

By die klagtekantoor in die dorp loop ek my toe ook teen ’n muur vas. Hulle kan my nie help nie, maar beveel aan dat ek my klagte na die munisipaliteit moet neem. Ek het regtig gedink hulle maak ’n grap. Wie gaan my om 23:00 op ’n Saterdagaand help by die munisipaliteit?

Uiteindelik het die polisie my “gehelp” deur aan my die blitspatrollie se telefoonnommer te gee. Daar was geen antwoord nie.

Terug by die huis het ek maar besluit om met die buurman te praat. Ná ’n geroep en ’n gefluit het iemand uiteindelik gereageer en ons het toe die saak uitgepraat, soveel so dat dit rustig geword het.

My groot teleurstelling is egter die afwesigheid van die polisie se hulp. Dit laat my wonder: Wat as daar regtig ’n krisis sou wees?

You need to be Logged In to leave a comment.