Inwoner vier binnekort 92 j.

Een van Welkom se oudste inwoners, Sarah Gouws, sal op 21 Februarie haar 92ste verjaardag vier.


Een van Welkom se oudste inwoners, Sarah Gouws, sal op 21 Februarie haar 92ste verjaardag vier.

Sy is in 1931 as een van agt kinders in die Verkeerdevleidistrik gebore.

Sarah en het haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Excelsior voltooi. Ná skool het sy in ’n prokureurskantoor begin werk.

Sy en haar man het, nadat hulle in 1954 getroud is, hulle in Welkom gevestig – waar sy nou al 69 jaar lank woon.

Haar man was die eertydse burgemester van Welkom wyle Gus Gouws.

Sarah is lief vir handwerk en het in haar jonger dae rokke vir haar dogters gemaak. Sy het ook truie en pakkies gebrei.

Sarah was aktief in die gemeenskap betrokke as onder meer bestuurslid by die Bedelia-VLU, asook by die OVV, wat haar baie na aan die hart gelê het.

Verder het sy haar man ondersteun tydens sy twee termyne as burgemeester, asook tydens die tyd dat hy lid van die provinsiale raad was.

Sy en haar man het twee dogters, Suzette Gouws Louw Holmes en Hanlie Gouws, wat ook in Welkom woon, ’n kleindogter en kleinseun, en vier agterkleinkinders.

Sy is steeds aktief, besoek weekliks die haarsalon en geniet uitstappies na die kwekery se koffiewinkel.

Sy het haar huis nou afgestaan en woon afwisselend by haar twee dogters aan huis.

Sy dank die Here vir sy groot genade en die voorreg om so lank gespaar te wees vir haar geliefdes.

You need to be Logged In to leave a comment.