Louzanne Coetzee en haar man, Jeandré Badenhorst, op verlede jaar se geleentheid. Vanjaar is sy die gasspreker.

Verlede jaar se Vrystaatse Sportster van die Jaar, Louzanne Coetzee, het glad nie verwag om met dié gesogte titel weg te stap nie.

Vanjaar keer sy egter terug, nie as ‘n deelnemer nie, maar as gasspreker op dieselfde spoggeleentheid.

Coetzee, Bloemfontein se geliefde paralimpiese atleet, is in 2024 dubbeld vereer toe sy die Sportvrou van die Jaar- én die algehele Sportster van die Jaar-eerbewys ontvang het.

Die gasvrou vir vanjaar se geleentheid is die voormalige Protea-netbalspeler Vanes-Mari du Toit. Sy sal saam met Rethabile Moshounyane, ‘n plaaslike radio-aanbieder en student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), die verrigtinge lei.

“Ek het verlede jaar glad nie my eerbewyse verwag nie. Ek het buite met iemand gesels toe ek hoor my naam word aangekondig,” vertel Coetzee.

“Dit was vir my ‘n groot verrassing.”

Coetzee, wat gesiggestremd is, het reeds wêreldwyd bekendheid verwerf. Sy het ‘n silwermedalje in die T11-afdeling van die 1 500m-wedloop en ‘n bronsmedalje in die T12-marathon op die 2020 Paralimpiese Spele in Tokio gewen. In 2024 het sy haar sukses voortgesit met nog ‘n bronsmedalje in die 1 500m op die Paralimpiese Spele in Parys.

Sy is nou hard aan die oefen vir die Berlyn-marathon, wat in September plaasvind.

Coetzee sê sy sien baie uit na die Sportsterre-aand, dié keer as inspirasie vir ander.

Hou Novus Media Gemeenskapsnuus se koerante in die Vrystaat – BloemNuus, BloemExpress, Vista en VrystaatKroon – dop vir meer inligting oor vanjaar se benoemings.

Die geleentheid is op Donderdag 9 Oktober en begin om 18:00 vir 18:30. Kaartjies kos R480 per persoon en R4 800 vir ‘n tafel van tien. Om te bespreek of meer inligting te kry kontak Ainslee Oosthuyen by 074 120 4450 of stuur e-pos na ainslee@spottedapple.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 11 December 2025
    Vista Edition 11 December 2025

Gift this article