Onder die vaandel “Ware identiteit sonder politiek” gaan die agt stamme van die Khoisan in die Goudveld hulle kragte saamsnoer om sodoende hul tradisies en kultuur in die streek, en ook oor die hele Vrystaat heen, te bevorder.
“Ons wil poog om die radikale narratief te vestig, met die klem grootliks op bewusmaking en herlewing van die eerste volk versprei op die vlaktes van ons ryk land. Dit gaan veel eerder oor n doelbewuste herstel na die vorige stand,” sê hoofman Daniel Theys.
Dit is gepas dat die agt stamme hierdie herlewing en vereniging in Erfenismaand aan die gang gesit het, die maand waarin Suid-Afrikaners hul herkoms vier. Hul uitgangspunt is Eenheid is Mag, en hulle sien hulself nie as ’n minderheid- etniese groep nie.
Die gesamentlike stamme stel ook sy edele koning Gert Taaibosch voor.
Koning Taaibosch (Khoebaha), kulturele leier van die Korana-volk, ook meer algemeen bekend as Oom Boschie, is oorspronklik van Mimosa (die huidige Schweizer-Reneke van die Noordwes-streek).
“Koning Taaibosch onderskryf hierdie herbewusmaking van vergete kulturele diversiteitwaardes. Hy ondersteun die bewusmaking van die volk se intrinsieke waardestelsel deur die hou van werksessies wat sal insluit linguistiese taalopleiding met betrekking tot die idioom, sintaks en spelreëls eie aan die taal van ons volk,” sê Theys.
Hy sê hul benadering is om radikaal weg te beweeg van die gewraakte woord “kleurling”.
“Dié gewraakte etniese klassifikasie is verewig in ons identiteitsdokumente. Dit hou die klassifikasie lewendig sodat ons dit nie durf vergeet nie. Ons sê onomwonde dat hierdie in ons arme mense se kele afgedwing was, ’n skeldnaam wat daarop gemik was om ’n hele volk sy unieke bestaansreg te ontsê, nadat ons grond op ’n vindingryke manier gevat, of geroof, was,” sê Theys.
Hy sê historiese data, bevestig deur argeologiese studies, dui aan dat dié volk 1 600 jaar voor 1652 al inboorlinge van die Zuid Afrikaanse Republiek was.