Ek deel graag die inspirasie wat ek by ‘n laerskool hier in ons Goudveld gedeel het. Ons kinders is vir ons so belangrik, en dit bly een van die grootste voorregte om God se Woord te kan deel.
Sjokolade is my gunsteling. Dit gee energie; die lewe is net beter; en ‘n oomblik kan ek die smaak deelmaak van my alles en net sê dit is die beste.
Om sjokolade te maak is die belangrikste bestanddeel kakao, maar dit is bitter en sleg so op sy eie. Dit is eintlik hoe ons lewe is: Nie altyd maklik nie.
So as ek by kakao onder meer suiker, melk, karamel en neute sit, dan verander dit in die lekkerste sjokolade.
Net so, as ek Jesus die belangrikste in my lewe maak, saam met alles wat Hy vir ons deur sy Woord leer, dan kan ek na die lewe kyk en dit ook beleef as goed, en die beste vir my.
Om die waarheid weer in my vas te maak dat ek vir God belangrik is. Om te weet ek is deur God gemaak en dat God vir my net die beste wil hê − Jeremia 29:11. Om weer te besef dat God elkeen van ons so uniek gemaak het, en dat God deel van ons elkeen se lewe is − Psalm 139:13.
Met Jesus as die belangrikste bestandeel in my lewe kan ek elke dag leef met oorvloed − Johannes 10:10.
Saam met Jesus sal ek dit regkry om ook soos Hy in ander se lewe ‘n opbouende verskil te maak.
Kom ons leef Jesus se opdrag uit en vul ons dag met Sy teenwoordigheid. My gebed is vir ons elkeen om Jesus die belangrikste bestandeel van die lewe te maak. Geniet dit lewe − soos jy sjokolade geniet.
− Heidi Mc Laren, jeugleraar aan die NG kerk Bedelia





