Die hoof van die Laerskool St Helena se 60ste verjaardag was ’n heerlike dag vol verrassings.
Daan Olivier sal Woensdag 24 Augustus beslis nie gou vergeet nie.
Olivier het ’n voorliefde vir miniatuurmotors en besit ’n versameling wat in sy kantoor uitgestal word.
Die personeel het hom na aanleiding daarvan op ’n opwindende rit in ’n bloedrooi 1949-Super Deluxe V8 Ford-vuurwa van die Welkom Classic Car Club trakteer.
Hy is by die skool opgelaai, het ’n draai deur die stad gery en is toe na Zack Lombard, ’n lid van die klub, geneem. Daar kon hy ’n ongelooflike versameling van 9 000 karretjies besigtig.
Terug by die skool is hy begroet deur ’n erewag van leerlinge en onderwysers wat blou ballonne en glinsterblou papierlinte in die lug gegooi het.
Die Sinties het saam uitgeroep: “Sinties sê: Gelukkige 60ste verjaardag!”