Die hofsaak van die pastoor en sy vrou van Odendaalsrus laat Goudvelders se emosies oorkook.
Verlede Woensdag , 26 Februarie met hul verskyning in die hof het die gemeenskap na die hof opgeruk ter ondersteuning van die slagoffer en sy eienaar.
Die gemeenskap voel so sterk oor die saak, hulle het selfs hempde laat druk om hul ondersteuning te wys.
Die pastoor (67) van Odendaalsrus word op twee klagtes van verkragting van ‘n minderjarige meisie aangekla.Sy vrou word daarvan aangekla dat sy van die voorval kennis gedra het, maar versuim het om dit by die owerhede aan te meld.
Die egpaar word ook aangekla van dieremishandeling, wat tot die dood van ’n hond gelei het, en aanranding op die hond se eienaar.
Daar word beweer dat die egpaar vir Leo die varkhond in September 2024 op ‘n wreedagtoge manier vermoor het deur hom eers te wurg en toe probeer het om sy keel af te sny.
Die mes het gebreek en die pastoor het sy vrou gestuur om ‘n ander mes te gaan haal, wat sy gedoen het.
Daar is getuig dat hy die hond verskeie kere in die kop gesteek het.
Die varkhond is meer as 50 keer met messe gesteek en is as gevolg van die voorval dood.
Die egpaar het na bewering ook die hond se eienaar tydens die aanval op die hond aangerand terwyl sy probeer het om haar troeteldier te beskerm.
Sy het op ’n stadium bo-op die hond gaan lê om hom te probeer beskerm.
Gemoedere onder dié wat die saak bygewoon het, het hoog geloop.
Vista verneem die pastoor het in die hof gesê hy gaan onskuldig pleit, hy en sy vrou is pensiontrekkers en hulle albei is sieklik.
“Die aanklaer het dit in die hof aan die beskuldigdes gestel dat sy die video gesien het.”
Op die video het die vrou baie vinnig gehardloop om ‘n mes te gaan haal tydens die voorval en sy lyk nie sieklik nie.
Die aanklaer het toe gevra of hy bewus daarvan is dat mense hom en sy vrou wil martel en “uitmoor.”
Hy het geantwoord dat hulle nie veilig is nie.
Die egpaar bly in aanhouding tot hulle volgende hofverskyning op 7 Maart.