LEERLINGE van die Hoërskool Humansdorp was in die wolke nadat hulle gehoor het hulle is gekies om die Oos-Kaapse gewigoptelspan die eerste keer te verteenwoordig.
Hulle vuurdoop kom van 14 tot 16 Junie wanneer hulle aan die Suid-Afrikaanse o.14-, jeug- en junior-toernooi in Johannesburg sal deelneem.
Die 15-jarige Ceyton Booysen sê hy was omtrent uit die veld geslaan.
“Ek was baie bly om te hoor ek het die span gehaal.
“Ek het laas jaar lank net met die 20kg-stang geoefen voordat ek later gewigte begin opsit het. Die SA toernooi is werklik iets waarna ek ongelooflik baie uitsien,” sê hy.
Liam Lolly (16) sê hy was “totaal verras” toe hy sy naam gesien het omdat hy nie verwag het om die span so gou te haal nie.
“Ek het ook lank net met die stang geoefen, maar toe die gewigte later bykom het ek gevoel dis iets wat ek nie kan los nie. Dis ’n wonderlike gevoel om die gewigte bokant jou kop uit te stoot.
“Wat tot my verbasing bygedra het was die feit dat my afrigter in ’n stadium gesê het ek moet dit stadig neem omdat ek nog nie 100% vertroud was met die bewegings nie,” sê Lolly.
Jerome Jacobs (15) sê hy was “baie beïndruk” toe hy sy naam gesien het.
“Dit was ’n wonderlike gevoel,” sê hy.
Volgens hom het verlede jaar se oefening saam met die span van Botswana baie gedoen om die plaaslike deelnemers te ontwikkel.
Vir Isaih Miggels van Humansdorp sal dit sy derde SA kampioenskap wees wat hy bywoon.
Hy het dus vanjaar heelwat ervaring wanneer hy die land se bestes aandurf.
Miggels het verlede jaar die goue medalje in die o.14-afdeling gewen, asook ’n silwer in die jeug-afdeling.
En verlede jaar het hy dié spogprestasie herhaal met goud in die o.14- en weer silwer in die jeug-kategorie.
Miggels het ook sy gelukwense oorgedra aan die nuwe spanlede van Pellsrus op Jeffreysbaai en dié van Gqeberha.