Ek wil jou vra om die volgende agter my aan te sê: “God is lief vir my, net soos ek is, maar Hy is te lief vir my om my te los soos ek is.”
Herhaal dit nou ’n paar keer, totdat jy dié woorde glo.
Ons ken die skrifgedeelte in Johannes 3:16 wat sê: So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Hoewel dit die waarheid is, klink dit soms vir ons so vaag, algemeen en onpersoonlik.
Die skrifgedeelte in 1 Johannes 3:1 klink meer tuis: Kyk wat ’n groot liefde het die Vader aan ons bewys dat ons kinders van God genoem kan word. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.
Ons ken die Sondagskoolliedjie “Jesus min my salig lot”.
Ons lees van God se liefde in Jesaja 43:4, waar dit geskryf is dat ons kosbaar is in God se oë, en hoe lief God ons het.
Paulus bid in Efesiërs 3:18 dat hulle in staat sal wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Hierdie liefde oortuig ons, red ons, verander ons, vernuwe ons; hierdie liefde sal ons selfs tugtig om God se doel in ons lewe te bereik.
Paulus vra in Romeine 8 wie ons van die liefde van Christus sal skei. Hy skryf in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het, en dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.
Mag jy begryp hoe lief God jou het.
– Past. Marius Swart, AGS Damaskus Welkom-Noord