Ná verskeie pogings deur die inwoners van Welkom om die Matjhabeng plaaslike munisipaliteit te kry om die rioolpyplyn in Riebeeckstad te herstel, moes AfriForum in die bres treë vir die inwoners van dié woongebied.
Die pyplyn het in Maart verstop geraak en vir nagenoeg twee weke lank het rou riool in Paduastraat teruggestoot.
’n Bejaarde egpaar se erf het in dié tyd enkeldiep onder rioolwater gelê.
Riool het op 18 Maart uit ’n mangat en uit inwoners se dreineringstelsels begin opstoot. ’n Bejaarde inwoner van Paduastraat het AfriForum op 27 Maart om hulp genader, aangesien die munisipaliteit ná verskeie versoeke steeds nie aandag aan die probleem gegee het nie.
Die 74-jarige inwoner is een van die wie se erf met die riool deurtrek was. Benewens die stank wat om haar huis gehang het, het die riool ook in haar swembad gespoel. AfriForum het dadelik met die munisipaliteit kontak gemaak sodat aandag aan die humanitêre- en omgewingskrisis gegee kan word.
In ’n skrywe aan die munisipaliteit het die burgerregteorganisasie geëis dat die probleem die volgende dag (28 Maart) opgeklaar moes word.
Die munisipale bestuurder het ontvangs erken, maar het tot op hede nie op die noodroep gereageer nie.
AfriForum was verlede week genoop om ’n kontrakteur aan te stel wat die probleem herstel het. AfriForum gaan die rekening vir dié herstelwerk aan die munisipaliteit stuur vir vereffening.
“Ons kan nie toelaat dat inwoners ly weens die wanbestuur van die munisipaliteit nie. Dit is die verantwoordelikheid van die munisipaliteit om ’n veilige en skoon omgewing vir almal te verseker,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland-streek.
Die rioolstelsel is op die oomblik die Matjhabeng-munisipaliteit se grootste uitdaging, maar dit is beslis nie die enigste probleem nie.
Plaaslike inwoners gaan onder meer gebuk onder swak dienslewering, voortdurende wateronderbrekings en die onwettige storting van vullis.
AfriForum se Welkom-tak is daartoe verbind om dié probleme die hoof te bied.