Ingryping kom as Matjhabeng versuim om Hooggeregshof bepaling na te kom


Die Vrystaatse regering sal nou ’n finansiële herstelplan vir die Ma­tjhabeng-munisipaliteit moet voorberei, insluitende die voorskryf van maatreëls vir die nakoming van sy pligte om versoeke aan die munisipale finansiële-herwinningsdiens van die Nasionale Tesourie te rig.

Dit kom nadat die DA ’n belangrike hofsaak teen die munisipaliteit en die Vrystaatse regering gewen het.

George Michalakis, LP–DA-kies­afdelingshoof van die Matjhabeng-munisipaliteit, sê dit bevestig dat die provinsiale regering ’n grondwetlike verpligting het om in te gryp by munisipaliteite wat nie aan die vereistes van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) voldoen nie.

Binne ses maande sedert hierdie hofbevel uitgereik is moet ’n afskrif van die herstelplan by die hof ingedien word.

Indien die munisipale raad dan versuim om wetgewende maatreëls goed te keur, insluitend ’n begroting of enige inkomste-insamelingsmaatreëls wat nodig is om aan die herstelplan uitvoering te gee, moet, onder andere, die premier van die Vrystaat die raad van die Matjhabeng-munisipaliteit ontbind.

Verder moet ’n admini­strateur aangestel word totdat ’n nuut­verkose raad vir die Matjhabeng-munisipaliteit bevestig word.

’n Tydelike begroting of inkomste-invorderingsmaatreëls moet ook goedgekeur word, asook enige ander maatreëls wat uitvoering gee aan die herstelplan.

Hierdie plan sal voorsiening maak vir die voortgesette funksionering van die Matjhabeng-munisipaliteit, of verantwoordelikheid aanvaar vir die instel van die herstelplan in die mate dat die munisipaliteit nie die herstelplan andersins kan instel nie.

Michalakis het gesê dit sal verseker dat finansiële dissipline aan die munisipaliteit afgedwing word.

“Dit sal die eerste stap na sy herstel wees. Die DA is bewus daarvan dat die munisipaliteit onder ANC-bewind die een plaaslike regering geword het wat die meeste aan ’n waterraad in die hele land skuld (R7 miljard), met basiese diensverskaffing wat byna heeltemal tot stilstand gekom het. Dit sal tyd neem om van te herstel,” het hy gesê.

“Hierdie hofoorwinning van die DA namens al die inwoners van Matjhabeng sal egter verseker dat, waar munisipaliteite in die Vrystaat nie finansiële dissipline uitoefen nie, die provinsiale en nasionale regering nie die keuse het nie, maar die verpligting om in te gryp met ’n behoorlike finansiële herstelplan,” het Michalakis gesê.

“Die ANC in die Vrystaat het nou ’n keuse: kom vorendag met en stel ’n realistiese finansiële herstelplan vir Matjhabeng in, of loop die risiko om dit te laat ontbind waar hy byna seker nie meer as 50% van die stemme in ’n verkiesing hier sal kry nie, soos ons in 2024 gesien het.

“Die DA sal die toepassing van die hofbevel fyn dophou.”

You need to be Logged In to leave a comment.