Frans Steyn (afrigter van die Cheetahs en Rory Duncan (utivoerende hoof van Vrystaat-rugbyunie) in die Toyota-stadion. Credit: Lientjie Mentz

As deel van die Vrystaat Cheetahs se 130ste verjaardag word daar Vrydag 11 Julie ‘n vriendskaplike wedstryd teen die span van Georgië in die Toyota-stadion in Bloemfontein beslis.

Georgië sal van daar ‘n week later teen die Springbokke te staan kom in die Mbombela-stadion in Nelspruit.

Die wedstryd in Bloemfontein sal as ‘n goeie voorbereiding dien vir die Cheetahs se aanslag op die Curriebeker wat op 26 Julie begin.

Die kaartjies vir die wedstryd is van vandag af te koop teen R100 vir die oop paviljoen en R150 op die hoofpaviljoen. As bonus is die wedstryd teen Georgië ingesluit vir almal, wat seisoenkaartjies het of losiekaartjiehouers.

‘n Spesiale 130 jaar beperkte voorraad Cheetah-truie gaan verkoop word waarvan 30 vir die spelers en die res vir versamelaars en groot aanhangers beskikbaar is.

Benewens die wedstryd, sal daar heelwat aktiwiteite wees om die gedenkwedstryd te vier. Daar is ‘n optrede deur Biggy en Zaan Sonnekus op die Castle-verhoog, ‘n kosfees waar besoekers sal kan kies tussen plaaslike lekkernye, die grootste springkasteel in Suid-Afrika sal aan kinders hope vermaak verskaf en daar sal ook Cheetahs mini-rugbywedstryde met jong rugbyspelertjies van oor die Vrystaat heen wat die middag voor die wedstryd op die veld sal wees.

Een toeskouer sal die kans staan om ‘n Toyota Hilux op die dag te wen.

Kaartjies is te koop by die Toyota-stadion of op die webwerf ticketpros.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.