Johan Potgieter se wenbaber.
Johan Potgieter se wenbaber het 27,33kg geweeg.

‘n Karp van 75cm in lengte het aan Jaco van der Walt die titel as algehele wenner van vanjaar se 24ste jaarlikse The Courier Guy Bloemhofdam Bonanza besorg.

Hiervoor kon hy R100 000 prysgeld huis toe neem. Kort op sy hakke, met ‘n karp van 73,5cm, is Ann Wheeler wat R30 000 prysgeld ontvang het.

Jaco van der Walt
Die wenkarp gevang deur Jaco van der Walt. Foto’s: Verskaf

Die “monsterbaber” van 147cm en 27,33kg wat Johan Potgieter uitgetrek het, het hom die wenner in die baberafdeling gemaak met R50 000 prysgeld.

Deelnemers wat nie wenvisse gevang het nie, het pryse in die talle gelukstrekkings ter waarde van R60 000 gewen.

Bernard Venter van die organiseerders Eco-Care Trust, sê die fokus was op karp as spesie omdat dit die speelveld tussen alle deelnemers gelyk maak.

Johan Potgieter en sy wenbaber.
Johan Potgieter se wenbaber het 27,33kg geweeg. Foto: Verskaf

Pryse in talle afdelings, gelukstrekkings gewen

Afgesien van die reuse pryse vir wenners, was daar ook pryse in die oewer-, boot- en vroue-afdeling te wen, asook in die afdeling vir hengelaars met gestremdhede.

Deelnemers het ook in aanmerking gekom om aan die mooiste spandragkompetisie deel te neem, en pryse te wen.

LEES OOK: Knewels gevang by 23ste Bloemhof Bonanza; vrou algehele wenner

Venter sê juniors het gestoei om bloukurpers te vang want talle van dié spesie het nie die strawwe winter in die Bloemhofdam oorleef nie en net een bloukurper is uitgetrek. ‘n Afdeling vir deelnemers met ‘n gestremdheid is ook aangebied.

Pieter Mieny en sy gesin mis nie ‘n Bloemhof Bonanza nie. By hulle is Bernard Venter (derde van links) van Eco-Care Trust.

Hy sê die Sandveld- en Sloepoewer wat weer by die Noordwes- en Verlatenkraal-oewer gevoeg is, het aan deelnemers meer hengeloewer-moontlikhede gegee.

Soos voorheen is die wenners van die onderskeie afdelings per lengte van die vis bepaal. Dié meetstelsel het verskeie voordele bo die van inweeg. Daar is nie hope vis by die weegstelsel nie en die visse se lengtes word deur die deelnemers op hul selfone ingedien wat meebring dat nie almal na ‘n sentrale punt hoef te ry om vis te laat weeg nie.

Elke deelnemer kan op ‘n elektroniese leiersbord op sy foon die lengtes volg, en slegs visse wat binne die pryse se struktuur val, word deur ‘n beampte geverifieer.

Terugvoer uiters positief

Venter sê die terugvoer vanaf deelnemers en borge was uiters positief.

“Dit is duidelik dat dit een van die aangenaamste Bloemhofdam Bonanzas was.”

‘n Deelnemer skryf op Eco-Care Trust se Facebook-blad: “Dit was baie lekker ek dink almal het hulle geniet – een van die beste well-organised Bloemhof Bonanzas”.

  • Die 25ste jaarlikse Bloemhofdam Bonanza word vir 29 April tot 3 Mei beplan. Vanjaar se bonanza is in April uitgestel weens hewige reën oor groot dele van die land.

You need to be Logged In to leave a comment.