Die sewe-jarige Damian Prinsloo van Welkom is ’n hengelaar van formaat en kan sy man staan teen gesoute en ervare hengelaars.
Damian, ’n gr. 1-leerling aan die Primêre Skool St Helena, se eerste rekord hierdie jaar was op 3 Augustus tydens ’n Pro Mania-kompetisie waar hy ’n spieëlkarp (5,9 kg), die grootste karp deur ’n penkop, gevang het.
Op 10 Augustus tydens nog ’n Pro Mania-kompetisie het hy ’n Oranjerivier-moddervis van 0,9 kg (Penkop) gevang.
Op 1 September by die Kroon Pro Mania-kompetisie by Aldam was hy onder die topdrie vir die dag van alle ouderdomsgroepe. Sy pa, Jacques, was eerste.
Hier het Damian ’n nuwe rekord vir die vang van ’n kleinbek-geelvis (1,4 kg) opgestel. Verder verbeter hy die rekord vir die vang van Oranjerivier-moddervis na 1,4 kg.
Hengel is in sy bloed en dit is al wat hy wil doen sê sy ouma Bella Prinsloo.
“Hy is hengelmal, selfs by skool se beroepsdag wil hy net hengel,” sê sy met trots.
Pa Jacques is ’n baie goeie hengelaar en Damian se oupa, Johan, hengel ook. Al drie hengel vir die Freddies-hengelklub.