Hemelvaart versoen Goddelik met menslik

,
Ds. Philip Mc Laren is leraar van die Oase-gemeente in Welkom

Met elke hemelvaartdag, soos in Handelinge 1:1-14, is ons saam met die dissipels op die Olyfberg. Hier beleef ons opnuut die seënende hande van ons Verlosser en hier lê ons opnuut weer ons belofte van ons geloof af om te volhard in die geloof.

Vir elkeen van ons moet die Olyfberg-ervaring ‘n oorwinnende ervaring wees want my Verlosser kom weer. Met hemelvaartdag kan ons weer met geloofsvertroue die bergspits beklim om te luister na die klanke van die hemelvaartverkondiging.

Die hemelvaart van Christus wys ons die weg na die hemel. Die spits van die Olyfberg wys na die hemel waarheen Christus opgevaar het, maar aan die voet daarvan lê Getsemane en Gotgota, die lydenspad – die kruispad van Jesus na die hemel.

Niemand sal die kruin van die Olyfberg haal wat Golgota misloop nie. Ons moet eers by die kruis kniel om op te kyk na die Olyfberg. Op Golgota is Christus vir jou en my gekruisig en dit is hier waar ons ‘n keuse maak vir die bergtog van heerlikheid.

Ons vind Christus hier op die Olyfberg op weg na die hemel nadat Hy sy taak volkome uitgevoer het om die weg na die hemel te baan.

Die vraag kan ontstaan of ons nou hulpeloos agtergelaat is. Nee, Jesus het vir ons in Johannes 14:18 gesê: “Ek sal julle nie as wese (weeskinders) agterlaat nie, die Heilige Gees sal vir ewig by julle wees.” Vandag weet ons dat hierdie vervulling op Pinksterdag gebeur het. Die Trooster, die Heilige Gees is na ons gestuur om in die harte van gelowiges te woon en te werk. Deur die hemelvaart is Christus slegs liggaamlik van sy volgelinge geskei want van sy Godheid, sy genade en sy Gees is ons nie geskei.

Deur die Heilige Gees sit Christus sy heerlike werk voort en lei Christus ons in die waarheid en maak ons vry van die bande van die duisternis en dwalinge.

Hemelvaart van Christus was die kroon op sy verlossingswerk op aarde, asook die waarborg vir sy volgelinge van ‘n ewige lewe by Hom. Vir ons as kerk en gelowiges is hemelvaart nie net ‘n eerbiedige aanbidding nie maar op die berg ‘n profetiese blik in die toekoms en met oë wat hemelwaarts gerig is om saam uit te roep: “Kom Jesus. Ja, kom gou!”

■ Ds. Philip Mc Laren is leraar aan die Oase-gemeente in Welkom.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025