Demi Lee Moore in 2019 toe sy haar twee gewilde rokke aan HelpHetta geskenk het. FOTO: Verskaf

Solidariteit Helpende Hand se HelpHetta-projek het in sy tiende bestaansjaar ‘n beduidende mylpaal behaal. Sedert 2015 is meer as 250 000 pakke sanitêre ware ingesamel en versprei aan behoeftige skoolmeisies regoor Suid-Afrika.

Waardigheid en geleentheid herstel

Die projek is begin om meisies te ondersteun wat weens ‘n gebrek aan basiese sanitêre produkte skool moet misloop. ‘n Meisie kan tot 55 skooldae per jaar verloor indien hierdie noodsaaklike produkte nie beskikbaar is nie. HelpHetta help om hierdie meisies se waardigheid te herstel en gee hulle die kans om voluit aan akademiese en sportaktiwiteite deel te neem.

“Die afgelope tien jaar het gewys hoe klein bydraes saam ‘n groot verskil kan maak,” sê Danelle du Plessis, projekorganiseerder. “Elke pak wat ingesamel word, beteken dat ‘n jong meisie in die klas kan wees en aan haar toekoms kan bou.”

LEES OOK: Behou kosbare, ware geloof in ’n tyd van wanhoop

Bekende ambassadeur se bydrae

Een van die grootste hoogtepunte vir HelpHetta was toe Demi-Lee Moore, bekroonde sangeres en destydse ambassadeur van die projek, haar twee bekendste aandrokke aan die inisiatief geskenk het.

Die rooi rok waarin sy vyf Ghoema-eerbewyse ontvang het, is aan ‘n meisie geskenk vir haar matriekafskeid. Die pienk-en-wit geblomde rok wat sy in 2018 gedra het toe sy landwyd bekend geword het tydens Die Kontrak en die daaropvolgende Afrikaans is Groot-konsert, is opgeveil en die opbrengs is ten bate van HelpHetta gebruik.

LEES OOK: Motorfietsryers reik wéér uit

Moore het destyds gesê: “Tienermeisies het genoeg om hulle oor te bekommer; ‘n tekort aan sanitêre ware moenie een van daardie dinge wees nie. Meisies moet veilig voel by die skool en met selfvertroue kan rondstap en aan sport deelneem.”

Nuwe veldtog aangepak

Met die viering van die kwartmiljoen-mylpaal voer HelpHetta ‘n veldtog om 10 000 pakke sanitêre ware voor die einde van die jaar in te samel. Gemeenskappe, skole, kerke, besighede en individue word genooi om deel te neem.

Die publiek kan help deur sanitêre ware by hul naaste Helpende Hand-tak te skenk. Alternatiewelik kan geldelike bydraes gemaak word sodat HelpHetta die produkte kan aankoop. Belangstellendes kan ook insamelingsprojekte by hul skool, kerk of in die gemeenskap hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 11 December 2025
    Vista Edition 11 December 2025

Gift this article