Wanneer ’n mens die koerante lees, wonder jy by jouself: Wat word van die wêreld?
Want daar is omtrent geen goeie nuus nie; niks waaroor jy meer opgewonde kan raak nie.
Daar is wel interessante nuus soos dat jy nou in ’n kis begrawe kan word met jou politieke party se kleure op of jou gunsteling rugbyspan se embleme. Maar hoe kry ons die wêreld waarin ons leef ’n beter plek? Moet jy stem vir die regte politieke party?
Moet die kerk ’n sterker boodskap uitstuur oor alles wat in die samelewing aangaan?
Dit kan dalk bietjie help; gaan lees weer Matteus 21:28-32. Jesus vertel ’n gelykenis van ’n pa wat sy twee seuns vra om in sy wingerd te gaan werk. Die oudste een sê nee, hy wil nie. Later kry hy spyt en gaan doen dit. Die tweede een sê eerbiedig goed pa, maar hy doen net niks nie.
Om van die wêreld om jou ’n beter plek te maak, gaan nie net oor wat jy sê nie, maar spesifiek oor wat jy doen. Gaan werk daaraan.
Werk om van Welkom ’n beter plek te maak waar ons almal dit kan geniet om hier te bly. Wat regtig saak maak is nie die kis waarin jy eendag begrawe word nie, maar wel dit wat jy doen om die lewe vir jouself en andere beter te maak. Die Here wil elkeen van ons gebruik om dit te doen.
) Lood Oliver is leraar aan die NG kerk Welkom-Noord.