‘Hamerbende’ slaan op winkels toe

’n Sogenaamde hamerbende, wat winkels se mure met hamers oopkap, het ’n winkel in Nyakallong, Allanridge, oor Paasnaweek van geld en sigarette beroof.


’n Sogenaamde hamerbende, wat winkels se mure met hamers oopkap, het ’n winkel in Nyakallong, Allanridge, oor Paasnaweek van geld en sigarette beroof.

Volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, kom dié manier van inbreek toenemend in die Goudveld voor.

“Dit lyk asof die gewapende roofbendes, wat snags op winkels toeslaan, buitelandse winkeleienaars as ’n teikensien,” sê hy.

Buitelandse winkeleienaars slaap dikwels in hul winkel in ’n poging om inbrake en rooftogte te voorkom.

Abdul Karim (48) het op 16 April wakker geword toe hy hoor hoe ’n muur van sy winkel oopgebreek word.

Vier mans, onder wie twee met vuurwapens, het Karim van sy selfoon, kontant en verskeie kartonne sigarette beroof.

Die volgende nag is ’n buitelander in Thabong op ’n soortgelyke wyse beroof, sê Thakeng.

Abdul Rahim (44) het op 17 April omstreeks 02:00 wakker geword van ’n lawaai in sy winkel. Twee mans met messe het die volgende oomblik deur ’n gat in die spazawinkel se muur geklim en Rahim gedreig. Die mans het ’n selfoon, kontant en sigarette gebuit.

Thakeng sê die verdagtes het te voet gevlug.

Die polisie het in Februarie twee mans in hegtenis geneem nadat tien winkels in Thabong op soortgelyke wyse beroof is.

Al dié winkels het ook aan buitelanders behoort.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.