Joan van Blommestein, ’n bekende in die Goudveld, het pas haar tweede boek, Asem van die Lam, gepubliseer.

Dit volg op haar eerste boek Kisklere wat in 2017 gepubliseer is.

Joan is die afgelope 38 jaar ’n haarstilis van beroep.

“So tussen die mullets en waaier-kuiwe van die 1980s het ek drupsgewys God se hand in die lewens van mense rondom my ervaar.

“Sy hand is net vir ander bedoel, maar nie vir my, ’n sondige lou Christen nie. Dit is wat ek gedink het. “Totdat Hy my een warm Vrystaat Saterdag in Februarie 2001 wakker geskud het,” sê Joan.

Sy sê sy het die Here, gesig-tot-gesig, langs ’n swembad ontmoet.

“Sy stem het my gewaarsku om nie van die swembad weg te draai nie. Dit was die dag wat my seuntjie sou verdrink het, as dit nie vir die Genadestem was nie.”

Sy sê God se werking te midde van angswekkende tye in die lewens van vriende, kliënte asook haar eie lewe het ’n vuur in haar laat brand om oor die almag en soewereinheid van God te skryf.

“My twee boeke is ware getuienisse oor God se manier om lewens te verander. Party mense waaroor ek skryf is uit die kake van die dood gered, ander se lewe op hierdie aarde is verby.”

“Kisklere vertel van ons soeke na God, en Asem van die Lam vertel ek hoe ’n dominee met ’n los kopvel my teen die swael en vuur van die hel gewaarsku het. “Dit het my steeds nog 20 jaar geneem om dit ter harte te neem. Een van die karakters deel die angswekkende ure tydens die kaping waarin sy betrokke was. Asem van die Lam is ’n ware verhaal van die bonatuurlike ingryping van Yahweh,” sê Joan.

  • Dit is ’n boek wat ons laat selfondersoek doen oor ons stand met God. Is ons Sondag Christene of het ons as gelowiges ’n verhouding met Jesus ons Redder? Om die boeke te bekom, kontak Joan by 082-337-0208.

Joan sal by die Allenestie-kunskothuis in Riebeeckstad op 28 November wees om haar boek bekend te stel en om ook net met haar lesers te gesels.

You need to be Logged In to leave a comment.