’n Onlangse verslag deur die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit het ontstellende besoedelingsvlakke van E. Coli en koliforme bakterieë in munisipale boorgatwater in Odendaalsrus aan die lig gebring.
Die besoedeling word gekoppel aan ’n spesifieke boorgat wat naby die wanfunksionele Akasia-pompstasie geleë is.
Volgens die verslag is die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit se optrede in direkte oortreding van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998), wat die beskerming van ondergrondse waterbronne, soos boorgate, vereis, veral tydens waterbeperkings wat op inwoners opgelê word.
Inwoners word dus direk geraak wat, in reaksie op waterbeperkings, hulle toenemend tot boorgatwater gewend het. Die besoedeling van hierdie lewensbelangrike hulpbron stel die gesondheid en welstand van Odendaalsrus-inwoners in gevaar, wat ’n ernstige bedreiging vir die gemeenskap se toegang tot veilige drinkwater inhou.
Sedert die aanvang van 2023 het Matjhabeng waterbeperkings ingestel om nagtelike waterverliese te versag. Gevolglik maak inwoners staat op boorgatwater, wat die belangrikheid van die beveiliging daarvan beklemtoon.
Geskeduleer vir opknapping op 1 November 2023 deur die implementeringsagent Vaal Sentraal, bly die Akasia-pompstasie verwaarloos, met geen konstruksie of opknapping wat begin is nie.
Daar word ook beweer dat Matjhabeng-amptenare die vergaderings van die bestuurskomitee verontagsaam en nie aandag gee aan die onvoldoende vordering wat deur die aangestelde kontrakteur gerapporteer is nie.
Daar word ’n beroep op inwoners gedoen om die gehalte van hul boorgatwater deur die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit of private gesondheidsinstellings in Welkom te assesseer.
Indien besoedeling geïdentifiseer word, word inwoners versoek om dit onmiddelik by die DA aan te meld.
“Ons sal dit met die betrokke departemente opneem om te verseker dat die R2,8 miljard wat bestee is om die rioolpypleiding te herstel, dringend weer ingestel word; dat alternatiewe maatreëls ingestel word om die besoedeling te stop; en dat ’n klag by die Groen Skerpioene ingedien word om ondersoek in te stel,” sê Igor Scheurkogel van die DA.
“Verder is ons daartoe verbind om die munisipaliteit te druk vir vinnige optrede en te eis dat die lang agterstallige opknapping van die Akasia-pompstasie begin word. Amptenare moet bestuurskomiteevergaderings bywoon om aanspreeklikheid en deursigtigheid te verseker in die aanspreek van hierdie kritieke kwessie,” sê hy.