Hulle noem hulself Handjie vol, “want, ’n handjie vol maak ’n verskil.”
So sê Jan Jacobs, hoof van dié groepie wat ywerig en konstant uit hul eie sak slaggate en paaie in en om Odendaalsrus opvul.
Jacobs werk met die Move One Million-beweging in Suid Afrika.
Handjie vol is ’n klein groep vrywilligers wat tot dusver al meer as een honderd slaggate en ook heel groter gate met heelwat teer opgevul het.
“Ons het al tussen vyf en tien ton teer gebruik. Op die Bundu-pad het ons al meer as 237 gate opgevul en op die Phakisa-pad het ons meer as 300 gate opgevul. Hierdie syfers sluit nie die slaggate in Odendaalsrus in nie, en ook nie die slaggate op die R30 van Allanridge tot by Welkom wateraanleg in nie. Ons is besig om paaie in Welkom veilig te maak,” sê Jacobs.
Sedert Jacobs en sy span meer bekend begin word het, het verskeie sakelui en privaat mense begin bydra om die inisiatief suksesvol te maak. Dít sal die groep motiveer om meer paaie en slaggate aan te pak.