Graag wil ek vir Jan Jacobs van Handjievol uit die diepte van my hart bedank vir die werk wat hulle so volhoubaar en uit eie wil doen. Dit is so wonderlik dat hulle ‘n voorbeeld vir ons gemeenskappe stel. Hulle harde werk gaan nie ongesiens verby nie. Ek bid elke dag vir hulle veiligheid.
Ek probeer my bes om ons straat en sypaadjie skoon te hou, maar my werk is maar ‘n druppel in die emmer teen dit wat hulle elke dag vermag en met liefde doen. Hulle het my ook geleer dat die eenvoudigste goeie daad beter is as die edelste voorneme.
Handjievol is al bekend en ek voel ons as Goudvelders kan nou en dan vir hulle ‘n koeldrank en iets lekker neem om te eet. Om werklik diens te kan lewer moet jy iets byvoeg wat nie gekoop of aan geld gemeet kan word nie, en dit is opregtheid en integriteit. Ek glo en vertrou dat ons Goudvelders gaan hande vat en Handjievol se voorbeeld volg.
Ek glo en vertrou dat die eerste burger, munisipale bestuur en werkers ons nood van tekortkominge sal raaksien.
Mozartstraat in Riebeeckstad kan ons padgebruikers nie meer gebruik nie – dit is gevaarlik en ek het amper twee leerlinge raakgery omdat hulle nie respek vir ons voertuig bestuurders het nie.
Die straatligte in Maree straat werk nie. Dit is nou al jare wat ek dit rapporteer, maar my versoeke word net geignoreer. Ons bly in ‘n gemeenskap waar daar elke dag inbrake is. Asseblief kom ons gemeenskappe tegemoet en gee aandag aan al die probleme en gevaarlike elemente. Ek voel dat daar meer aandag aan ons bejaardes gegee moet word.