Die Griffons is nog steeds onoorwonne nadat hulle die Luiperds Dinsdag in Welkom met 35 –25 gewen het.
Die wedstryd tussen die Luiperds en Griffons in Welkom wat Saterdag (21/05) moes plaasvind, is weens slegte weer gekanselleer nadat ’n spanbus van die Luiperds deur weerlig getref is.
Eugene Fourie, uitvoerende beampte by die Luiperds Rugbyunie, het bevestig dat die spelers op die bus was toe dit deur weerlig getref is, maar sê niemand is beseer nie. Dié wedstryd is toe Dinsdag by die HT Pelatona Stadium in Welkom gespeel.
Op 14 Mei het die Griffons teen Boland in Bredasdorp gespeel. Die Griffons het met 36 – 31 gewen.
Saterdag 7 Mei het ’n geskiedkundige dag in Welkom-rugbykringe geword toe die Griffons die SWD Arende die stryd aangesê het op die groot reünienaweek vir oudspelers van die Noord-Vrystaat-rugbyunie én die Griffons.
In die teenwoordigheid van groot name in Noord-Vrystaatrugby en die Griffons se verlede het die SWD Arende dit ontgeld toe die Griffons hulle met 40 –16 geklop het.