Die Down Touch Griffons is steeds onoorwonne en net een punt staan tussen hulle en bevordering tot die Carling-premierliga in 2023.
Die span het Saterdag (28/05) die OP Olifante met 23 – 13 in die Nelson Mandela Bay-stadion in Gqeberha gewen.
Die Griffons het met minimum balbesit en gebiedsvoordeel die wedstryd gewen.
“OP het 70% van die wedstryd beheer, maar die Griffons se verdediging was ongelooflik,” sê Chris Krause van die Griffons.
Krause sê hy hoop die Griffons is nie oorgerus wanneer hulle Saterdag in Rustenburg die Valke gaan pak nie.
“Die OP het die Valke met 47 – 7 gewen, en ons het OP met 23 – 13 gewen. Die Griffons staan tans bo-aan die puntelys en hulle is net een punt weg van wen, maar soos ek die Griffons ken, sal hulle nie met een punt tevrede wees nie. Hulle sal die wedstryd wil wen, en met oortuiging,” sê Krause.
Die Griffons is die enigtse onoorwonne span in die Carling Currie-beker se eerste liga.
Die begin van die wedstryd teen OP was ’n skop-tweestryd toe die OP-heelagter, Masixole Banda, twee strafskoppe oorgeklits het – een voor en een na ’n skop van die Griffons-skrumskakel, Jaywin Juries.
Dit het die OP ’n 18 minute voorsprong van 6 – 3 gegee.
Die Griffons was egter gou voor, want in die 22ste minuut het losskakel Duann Pretorius oorgegaan vir die wedstryd se openingsdrie, met ’n Juries-omskakeling wat hulle met 10 – 6 laat voorloop het.
Juries het in die 27ste minuut ’n strafdoel mis geskop. Die span het rustyd ingegaan met ’n voorsprong van vier punte.
Die Griffons het toe sterk begin in die tweede helfte toe die stut Buhle Nojekwa in die 48ste minuut oorgestoot het vir ’n verdoelde telling, terwyl nog ’n Juries-strafdoel ses minute later hulle verder met 20 – 6 laat voorloop het.
’n Strafdoel in die 74ste minuut aan Juries het die Griffons se plek bo-aan die eerste afdeling se punteleer vasgemaak.