Die waarnemende hoof van die Goudveld-Hoërskool in Welkom, dr. Willie Stolk (61), en sy vrou, Elba (60), wat ’n departementshoof aan Goudveld is, was Saterdag in ’n ernstige motorongeluk.
Dit is ongelooflik dat hulle net geringe beserings opgedoen het in dié ongeluk, waarin drie ander mense dood is.
Die Stolk-egpaar was om 07:10 in ’n Mahindra XUV op die hoofweg tussen Brandfort en Theunissen onderweg toe die ongeluk, waarin drie motors betrokke was, plaasvind. Die ongelukstoneel was sowat 10 km voor Brandfort.
Elba sê hulle was op pad na Bloemfontein, waar die Goudveld-Hoërskool teen die Hoërskool Sentraal in die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks kragte gemeet het. Hulle het beplan om ná die wedstryde by hul dogter, Carina Stolk, wat in dié stad woon, te gaan kuier.
Sy sê hulle is steeds nie seker presies hoe die ongeluk plaasgevind het nie.
“Ek het afgebuk om iets te kry en toe ek opkyk, was daar ’n motor reg voor ons. Alles het so vinnig gebeur. Toe ons motor in die veld langs die pad tot stilstand kom, het ek so vinnig as moontlik uitgeklim om Willie te help. Met genade van bo het hy ook net geringe beserings gehad.”
Volgens ooggetuies wil dit voorkom asof ’n Volkswagen Polo ’n Mazda 3 op ’n sperstreep verbygesteek het. Die bestuurders van die Polo en Mazda is albei oorlede, asook ’n passasier. Benewens die Stolks het drie mense die ongeluk oorleef.
“Dit was regtig ’n baie lelike ongeluk, en ons is net dankbaar dat die Here ons beskerm het,” sê Elba.
“Ons is dankbaar vir die hele Goutie-familie wat ons so mooi ondersteun en bygestaan het; asook vir al die ondersteuning en bystand ná die ongeluk.”
Die Goudveld-skoolbusse met die sportspanne was agter die Stolks op pad na Bloemfontein.
“Ek het net vir die kinders in die busse gewys ons is oraait, hulle kan maar ry.”
Carina het hulle kom haal en na die Mediclinic Welkom gebring vir mediese ondersoek.
“Die dokters het bevestig: buiten ’n paar skrape, bloukolle en kneusplekke makeer ons niks nie. Daarvoor is ons innig dankbaar.”
Die egpaar het op Woensdag 17 Julie van China af teruggekeer waar hulle by hul seun Johann Stolk in Guangzhou gekuier het. Hulle ander seun, Willie (jr.), en sy gesin woon in Auckland, Nieu-Seeland.
Die Stolks se Mahindra was ’n nuwe motor, wat hulle sowat twee maande terug gekoop het.
Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder vir die polisie in die Goudveld, het die ongeluk waarin drie voertuie betrokke was, bevestig – ook dat drie mense in die ongeluk dood is. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.