Die 45ste Mielie-marathon word op 20 Januarie 2024 aangebied, en atlete word daaraan herinner om die datum in hul dagboek aan te teken.
Dié marathon is die oudste wedloop in die Vrystaat en word onder die oudstes in die land gereken.
Die eerste Mielie-marathon het in 1979 vanaf Wesselsbron na Odendaalsrus plaasgevind, en was nie deur enige klub aangebied nie.
Daarna het die Welkom Harriers die wedloop oorgeneem, en sedert 2012 word die marathon deur Goudveld-multisportklub aangebied.
Dié 42 km-marathon dien as ’n kwalifiserende wedloop vir die Comrades- en Two Oceans-marathons. Daar word ook ’n halfmarathon, 21 km-, 10 km- en ’n 5 km-pretloop aangebied.
Inskryfvorms sal binnekort beskikbaar wees.
Louis Massyn, stigter van die Mielie-marathon in 1979, hoop om die 42 km vir die 41ste keer aan te durf. Baie atlete vanoor die land heen beskou dié marathon as een van die bestes in die land. Plaaslike atleet Hennie Griesel het dié wedloop al 22 keer voltooi.
Vanjaar het meer as 900 atlete aan die verskillende afstande deel geneem, en die organiseerders het reeds begin met bemarking van die 2024 Mielie-marathon, met die doel om 1 200 inskrywings te ontvang.
Die begin en eindstreep sal weer by die Hoër Tegniese Skool (HTS) Welkom se sportgronde wees in Volksweg, Welkom.
Vir meer inligting, kontak Pedrie Erasmus op 083-478-3886, of Louis Massyn op 071-460-9536.