Meer as R17 000, kos en komberse is vir die Claws-dierebeskermingsorganisasie tydens ’n spitbraai- en gesinsdaggeselligheid ingesamel.
Die geleentheid het Saterdag (10/06) by die Voorslag-restaurant in Riebeeckstad plaasgevind.
Rene Jansen hoof van ’n plaaslike eiendomsagentskap, het die dag gereël om Claws – wat in nood verkeer – te help.
Jansen sê Claws het verlede week ’n noodkreet uitgestuur.
“Hulle koskaste is leeg. Buiten al die honde en katte is daar ook vyf perde by hulle wat kos nodig het,” sê sy.
Jansen het met behulp van die Ulysses Goldfields-motorfietsklub baie ondersteuning ontvang.
“Ons het met baie borge en sakeondernemings gepraat om skenkings te maak. Die publiek was ook baie behulpsaam en almal het gehelp om die dag suksesvol te maak,” sê sy.
Daar was ’n spitbraai met pap en sous wat teen R50 per bord verkoop is en daar is ’n veiling gehou om nog geld in te samel.
“Buiten die geld is baie honde- en katkos en komberse ook ingesamel.
Blikkies kos is ook ingesamel vir die jonger honde en katte wat nog nie harde kos kan eet nie.
“Ons gaan ook ’n Jo-Jo-watertenk by Claws vir die diere laat installeer,” sê Jansen.