Vista dien al vir 21 jaar as die hoofmediaborg van die jaarlikse MediClinic/Vista Eskom Atletiekklub Vrystaat padwedloop.
“Dit is ’n eer vir die klub om aan te kondig dat Vista hierdie jaarlikse wedloopgeleentheid gaan ondersteun,” sê Hilde du Plessis, geleentheidsorganiseerder.
“Vanjaar is ons tema ‘Spanwerk laat die droom werk’ en die ondersteuning wat ons van Vista ontvang, getuig daarvan. Dankie, Vista,” sê sy.
Inskrywings vir hierdie opwindende wedloop wat op Vrydag 25 Augustus plaasvind, is oop. Inskrywings sluit op die dag van die geleentheid.
“Die wedloop verteenwoordig ’n fees en unieke geleentheid om te sosialiseer, en om spangees te bou. Nie net vir die vroue nie, maar vir familie en vriende ook. Dit is ’n wedloop om na uit te sien ter viering van nasionale vrouemaand.
“Die 2023 slagspreuk en tema som die gevoelens van vanjaar se wedren op: Spanwerk laat ’n droom werk X ’n motivering om suksesvol te wees en om vir hierdie gewilde geleentheid in te skryf,” sê Du Plessis.
Vir die derde agtereenvolgende jaar het Vista se Ryno Kirsten die amptelike banier van die wedloop ontwerp.
“Ons 21ste bestaansjaarviering word gedoen in samewerking met die hoofborg Mediclinic, en die hoofmediaborg Vista.
“Ons word ook ondersteun deur ons mediese diensverskaffer, ER24, PKF Ouditeure, Lesedi ICT, Office National, Virgin Active, Battery Centre, Cito’s, Capital Sounds en al die ander borge wat deel van die geleentheid gaan wees om hierdie jaar ekstra spesiaal te maak,” sê sy.
Die geleentheid dien ook as ’n fondsinsameling vir die Charlotte Moll Haven, die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddienste (SANBD).
Belangstellendes kan op entryninja.com inskryf, of in persoon (gedurende kantoorure) by Office National in Araratweg, PKF Ouditeure, Lesedi ICT in Stateway en by Virgin Active op 21, 22, 23 en 24 Augustus vanaf 14:00 tot 19:00.
Vanjaar is daar drie aktiewe, pret- en stap-wedlope (In Her Honour) wat 1,5 km strek. Dit sluit die rolstoelgebonde/gestremde persone, kinders (sewe tot 15 jaar), kleuters (drie tot ses jaar) en Meesters (mans en vroue) in.
Dié wedlope sal tussen 16:30 en 17:00 plaasvind.
Om 18:00 begin die 5 km-pretstap vir vroue (For Joy) en om 18:30 begin die 5 km ope vir mans en vroue (For Love).
Vista sal die jongste inligting in die koerant, Vista se blad op netwerk24.com en news24.com en op die koerant se Facebook-blad deel.
Inskrywingsvorms is beskikbaar by die Vista-kantoor en by die Mediclinic Welkom.
Daar sal nuwe en unieke deelnamemedaljes vir alle deelnemers wees wat die wedloop voltooi.