In vyf strawwe rondes van die hoofgeveg het Dricus ‘Stillknocks’ du Plessis (30) geskiedenis gemaak deur Suid-Afrika se eerste UFC-middelgewigkampioen ooit te word.
Ná ’n harde stryd het du Plessis as oorwinnaar uit die stryd met ’n verdeelde beslissing oor Sean Strickland getree.
Dié oorwinning kom ná ’n hewige stryd by die Ultimate Fighting Championship 297 in die Scotiabank Arena in Ontario, Kanada, vroeg Sondag 21 Januarie.
Du Plessis het Strickland in ’n kneusende ontmoeting in Kanada oorrompel.
Dit was ’n naelbytstryd, maar hy het eindelik geseëvier op ’n verdeelde beslissing (48-47, 47-48, 48-47) voordat hy dit duidelik gemaak het wat hy volgende wil hê moet gebeur.
Du Plessis het nou sy visier ingestel op ’n potensiële titelgeveg met Israel Adesanya by die komende UFC 300-eeufeesgeleentheid wat waarskynlik van die grootste MMA-gevegte in die geskiedenis sal hê.
Hy het in Julie 2023 met ’n TKO die voormalige kampioen Robert Whittaker by UFC 290 gewen.
Du Plessis het nie net duisende Suid-Afrikaners en bekendes se ondersteuning gehad nie, maar ook dié van sowat 100 vriende en familielede wat sy reis na Kanada meegemaak het om in lewende lywe te sien hoe hy as wêreldkampioen gekroon word.
Sy aanhangers vanoor Suid-Afrika heen, maar veral in Welkom waar hy skool gegaan het by die Primêre Skool Naudeville, is verheug ná sy oorwinning.
Op Facebook stroom die gelukwensings in. Claudia Doig skryf: Welkom is trots op jou!
Nog ’n aanhanger Lester Pywell skryf welgedaan en massas baie geluk Dricus “Stillknocks” du Plessis met jou stewige oorwinning. ’n Ware kampioen en legende. Welverdiend. Maree Schubert van der Merwe sê Du Plessis verdien die belt. Dricus you deserve that belt. “Dankie dat jy so passievol is oor jou land en jou sport.”