Goudveld verdien beter

Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:.


Die strate van Matjhabeng, en veral Riebeeckstad, vrot behoorlik van die vullissakke wat vir nege weke nog nie gelaai is nie.Foto: Antoinette Schoeman

Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:

Ek stap elke dag sowat 7 km in Riebeeckstad.

Sjoe, die strate stink behoorlik van die vullissakke wat al nege weke lank wag om opgelaai te word. Sommige van die sakke is oopgeskeur en die vrot kos lê in die pad.

Glo my, klein kindertjies, verslete bejaardes en boemelaars grawe in die sakke op soek na iets om te eet.

Wurms peul uit die sakke en die rotte baljaar te lekker.

Is dit nie ’n groot gesondheidsrisiko nie? Ek kla werklik nie verniet nie. Almal is dit eens dat die situasie onaanvaarbaar is. Die inwoners is briesend kwaad oor die omstandig­hede waarin hulle moet leef.

As ons watertoevoer afgesny word en ons in kennis gestel word dat beurtkrag toegepas gaan word, loop die gemoedere hoog.

Ons het 32 dae lank nie water gehad nie. Gelukkig het ons ’n boorgat en kon ons mense help met water.

Selfs van die inwoners van Thabong het water gesoek.

Ons eerste burger van Matjhabeng probeer sy uiterste bes om van die Goudveld weer ’n ordentlike plek te maak. Hy kan dit egter nie alleen doen nie. Die bestuur van Matjhabeng is verantwoordelik om toe te sien dat ons diensverskaffing op peil is. Ons is immers die mense wat elke maand stiptelik hul salaris betaal.

Die Goudveld se toestand is een skreiende skande.

Ek sien daagliks peperduur voertuie. Selfs van die jong mense ry luukse motors. Paleise van huise skiet soos sampioene op, en jolige partytjies word gehou. Trollies wat oorloop van kos en klere word in die winkelsentrums gesien.

Waar kom al die geld vandaan?

Mense sterf daagliks van hongersnood en armoede. Moet ons nie ons voelers uitsteek om behoeftige mense te help om ’n beter bestaan te maak nie?

Ek vra en ek smeek dat daar asseblief na ons mense in die Goudveld omgesien word.

Ek woon al 71 jaar lank hier. Nooit het ek gedink dat die Goudveld een groot vullishoop gaan word nie.

Word wakker, Matjhabeng-bestuur.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.