Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Dit is met woede, teleurstelling en hartseer dat ek die brief skryf.
Ek is ’n lojale Goudvelder en is lief vir Riebeeckstad en sy mense en wil graag hier aftree. Ek is al 74 jaar in die Goudveld en wil vir die res van my jare hier bly, maar weens al die gemors en swak instandhouding besin ek om elders te verhuis waar ek vrede vir my siel en my liggaam kan vind.
Mozartstraat is vol massiewe slaggate. Dit is so erg dat ons van alternatiewe roetes gebruik moet maak om by ons wonings uit te kom. Hierdie straat is bedrywig en skoliere gebruik ook die pad. Skoliere beset die hele pad en hulle gee nie om vir motoriste nie.
Die slaggate is gevul met water weens ’n waterlekplek op die hoek van Mozart- en Maree-straat. Miljarde liters water stroom in die straat af en dit is al vir etlike maande ’n yslike probleem.
Ek het dit al verskeie kere gerapporteer, maar my versoeke word geïgnoreer.
Ek het selfs briewe aan die premier van die Vrystaat en die eerste burger van Matjhabeng gerig, maar kry geen terugvoering.
Die straatligte in Welkom, Riebeeckstad en ander woonbuurte is 24/7 aan. Die spreiligte op die Riebeeckstad se krieketveld is ook 24/7 aan.
Dit is ’n skande en vermorsing van krag. Die straatlig op die hoek van Mareestraat in Riebeeckstad is afgebreek en jare buite werking.
Dis pikdonker daar en hier is ’n lekker bymekaarkomplek vir jonges.
Hier word drank misbruik en die reuk van dagga hang in die lug. Harde musiek word gespeel tot laatnag.
Ek glo en vertrou dat my brief op die regte ore sal val.