Die Wêreldfiksheidfederasie (WFF) se Vrystaat-en-Noord-Kaap-kampioenskap het in Bloemfontein op Saterdag, 3 September, afgespeel.
Dié geleentheid was ’n kwalifiserende kompetisie vir die WFF se nasionale kampioenskap wat op 15 Oktober in KwaZulu-Natal sal plaasvind. Deelnemers wat topposisies in Bloemfontein behaal het, kwalifiseer om aan die nasionale kampioenskap deel te neem. Die nasionale kampioenskap is dan, op sy beurt, ’n geleentheid vir deelnemers om te kwalifiseer vir die WFF se wêreldkampioenskap wat vanjaar November in Indonesië sal afspeel.
Drie Goudvelders het topposisies behaal.
Wimpie Botha van Hennenman was eerste in die mans Extreme-afdeling, tweede in die meesters oor 40 jaar-afdeling, en eerste in die paartjies-afdeling.
Sy vrou, Marlie Botha, was eerste in die atletiese-liggaamsbou vir vroue en eerste in die paartjies-afdeling.
Pieter-Juan Vorstman van Welkom het tweede geëindig in die mans-denim afdeling.