Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Met groot skok en woede het ek hierdie verskriklike prentjie afgeneem toe ek in Romeostraat, Welkom, gery het opsoek na iemand se huis.
Ek het onmiddellik die eienaar van die perseel gekontak in Romeostraat gekontak en wou weet of hierdie verskriklike diep gate al ooit gerapporteer is.
Die bejaarde vrou sê toe het aan my gesê sy het die bestuur van Matjhabeng al drie jaar gesmeek om hierdie gevaarlike situasie wat al drie jaar so is te herstel. Niemand het op haar versoeke reageer nie.
Die een gat is groot en diep, vol water en die riete groei welig.
Ek is bevrees dat as kinders daar inval, hulle kan verdrink.
Die ander gat is net so diep en gevaarlik. Daar is geen waarskuwingstekens aangebring sodat voetgangers en motoriste hierdie area moet vermy nie. Die gate is ook nie afgesper nie.
Die eerste burger van Matjhabeng sal onmiddellik moet ingryp voordat dit te laat is.
Ek glo en vertrou dat dit so gou as moontlik herstel sal word.
Dan is die slaggate in Davidstraat, Naudeville, is iets ysliks. Dis ’n baie besige straat en skoolkinders maak gebruik van hierdie straat om skool toe te stap.
Voertuie, veral taxi’s, swaai uit vir die slaggate en peil reg op jou af.
Ek vrees dat hier ongelukke gaan plaasvind of voetgangers kan raakgery word.
Ek doen ’n ernstige versoek aan ons eerste burger en die bestuur van die Matjhabeng-munisipaliteit om indringend hieraan aandag te skenk en dit te herstel.
Ook die slaggate om die Naudeville Primêre Skool moet dringend aangespreek word.
Ek glo en vertrou dat my versoeke aandag sal geniet en dat daar opgetreë sal word.