“Wat is die betekenis van die lewe?
Ek het die vraag al soveel keer vir myself vra – en was die antwoorde aan myself vertroostend, hoopvol, met passie? Dit is waarom ek so van die volgende verhaal hou. Ek bid dat, as jy dit lees, dit vir jou ook baie sal beteken.
Aan die einde van ’n klas word gevra: “Is daar enige vrae?” Gewoonlik is daar nie, want almal wil huis toe gaan. Robert Fulghum het die gewoonte om sy hand op te steek en dan tong in die kies te vra: “Wat is die betekenis van die lewe?” Almal lag dan.
Daarna sê Fulghum: “Miskien sal iemand eendag my vraag beantwoord.”
Eendag het ’n ou Griek genaamd Alexander Papaderos wel dié vraag beantwoord. Die Griek het ’n ronde spieëltjie uit sy sak gehaal, omtrent die grootte van ’n R5-stuk.
Papaderos het vertel dat hy dit al van kleintyd af saam met hom dra. Dit was vir hom ’n speelding. Hy was daardeur betower dat dit lig kon weerkaats, selfs in die donkerste plekke. Sy speletjie se doel was om te sien hoe hy lig in onmoontlike plekke kon laat skyn.
Papaderos het toe gesê: “I kept the little mirror. As I became a man, I grew to understand that this was not just a child’s game, but a metaphor for what I might do with my life. I came to understand that I am not the light or the source of light. But light is there and it will only shine in dark places as I reflect it.”
Ons kan God se lig laat weerkaats tot in die donker plekke van mense se hart. Dit is volgens Papaderos die betekenis van die lewe.
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U in Johannes 8:12 sê U is die lig vir die wêreld; wie U volg sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die Lig hê wat lewe gee. Ons gee ons lewe vir U. Mag U deur ons skyn. Mag U vir ons sin gee vir elke tree wat ons stap. Mag U ons gebruik om ’n verskil te maak in ’n wêreld wat lig nodig het. Amen.
- Heidi Mc Laren is ’n jeugleraar aan die NG kerk Bedelia