In Eksodus 2:23-25 kon Israel seker op verskillende maniere reageer het.

Kwaad en bitterheid teenoor die Egiptenare. Ontnugtering en teleurstelling oor die skielike ommeswaai van Egipte. Woede en magteloosheid oor die onmenslike slawe behandeling. Moontlik ’n woede teenoor God.

“Here, U het ons na hierdie land gebring om ons te red van ’n hongersnood en kyk nou, nou gaan ons dood onder die verdrukking!”

Die ontnugtering wat hulle in die oomblik voel en besef, hulle staan nie los van swaarkry en pyn nie.

Hulle kon gevra het “Here, hoe kan U dit aan die appel van U oog-volk doen?”

Maar ons sien dat Israel kies om juis na God te draai, hul hande na Hom uit te steek in gebed en om hulp te roep.

Hier is ’n paar belangrike woorde. ’n Geroep om hulp het tot God opgegaan, God het hul gekerm gehoor.

Hier is twee goed belangrik: hul gekerm en God wat hul gekerm hoor.

Die volk was so teen die planke dat hulle nie net hul nood gekommunikeer het aan God nie. Hulle het gekerm, en God hoor dit. Hy hoor elke woord, Hul pyn, swaarkry, emosies.

God het aan Sy verbond gedink, en sy beloftes onthou. Hy neem die gekerm ter harte en Sy hart breek vir sy stukkende volk.

Dit is belangrik om te onthou ons is nie Israel nie. Ons is Suid-Afrikaners en nooit mag ons so arrogant wees om te dink God sorg net vir ons nie.

Wat ons wel mag doen, is om hierdie Woord te hoor as ’n Christen, saam met swart, bruin, Indiër Christene, saam met Christene uit Oekraine, Soedan, Sirië en ander lande.

Die Here hoor en sien ons nood as sy kinders, en so al sy kinders oor die wêreld heen.

Ek weet nie wie of wat is jou slawedrywer en jou Farao nie. Dit kan werk wees, dit kan ’n huweliksmaat wees, jou finansies, kinders of ouers. Dit kan ure se beurtkrag of vyf weke se waterloosheid wees. Die politiek, regering, die munisipaliteit of jou buurman.

Jy word verdruk, kry swaar en jy is kwaad, moedeloos, ontnugter, teleurgesteld en nog ’n klomp ander gevoelens.

Net soos Israel het jy ’n keuse om te vloek en te skel en vir die hele wêreld kwaad te wees of net in stilte swaar te kry. Of jy kan roep om hulp na God.

Kom ons pleit, kom ons kerm, maar kom ons glo en weet dat die Here ons hoor.




) Ds. Christo

Nel is van die NG gemeente Riebeeckstad.

You need to be Logged In to leave a comment.