Hoop is ’n ding, maar dit sterf as jy ’n “kan nie”-ingesteldheid het.

“Ek kan nie” is ’n tronk waarin jy jouself toesluit. As jy gedurig sê of dink: “Ek kan nie”, beperk jy jou skeppingspotensiaal: Ek kan nie my humeur beteuel nie; ek kan nie ’n werk kry nie; ek kan nie wegkom van die seerkry in die verlede nie; ek kan nie vergewe nie; ek kan nie meer met my huweliksmaat oor die weg kom nie; ek kan nie meer die druk hanteer nie.

Daar is blykbaar geen einde aan die dinge wat mense dink hulle nie kan doen nie.

Het jy die belangrikste faktor in die lys “kannies” hierbo gesien? Dis ek. ’n “Kan nie” ingesteldheid fokus net op jouself. Jy soek nie hulp nie, jy probeer nie anders lewe nie. “Kan nie” fokus op jou swakste punte en maak die hooplose afleiding: “Ek kan nie”.

Dit is nie nuut om so te dink nie. Baie mense in die Bybel het ook so ’n “kan nie”-ingesteldheid gehad. Sarah (Genesis 18:10-12) het gedink: Ek kan nie meer kinders kry op my ouderdom nie, Moses (Eksodus 6:30) het gedink: Ek kan nie goed praat nie, Gideon (Rigters 6:15) het gedink ek is die minste (slegste) in my gesin, Ester (Ester 4:11) het gedink ek nie my volk red nie, Jesaja (Jesaja 6:5-7) het gedink ek het onrein lippe, ek kan nie profeteer nie. Jesus se dissipels (Matteus 14:15-18) het gedink ons kan nie vir soveel mense kos gee met net vyf brode en twee vissies nie.

Maar God sê in Kolossense 3:2, rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie. In Filippense 4:13 sê Hy: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my die krag gee.

In Lukas 1:37 het Jesus self gesê: Niks is vir God onmoontlik nie.

Wonderwerke volg met die houding “ek kan.” Jy kan vergewe, ’n gelukkige huwelik hê, ’n werk kry, gedissiplineerd wees.

As daar ’n uitdaging in jou lewe is, ongeag van hoe groot dit is, sal God jou die krag gee om dit te oorkom as jy Hom vertrou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025