God gee die sleutels om regte deure mee oop en toe te sluit

Die naweek van 22 to 24 November het ons ’n Skool-verwisselingskamp by die Goudveld-Hoërskool aangebied. Altesaam 60 voornemde gr. 8’s vir 2024 het dit bygewoon. Ons tema: “Sleutels sluit deure oop en toe.”.

Ds Christo Nel, NG Gemeente Riebeeckstad.Foto:

Credit: SYSTEM

Die naweek van 22 to 24 November het ons ’n Skool-verwisselingskamp by die Goudveld-Hoërskool aangebied. Altesaam 60 voornemde gr. 8’s vir 2024 het dit bygewoon. Ons tema: “Sleutels sluit deure oop en toe.”

Die naweek het my laat besef dat ons almal se lewe eintlik uit deure en sleutels bestaan. Vir almal lê die geheim daarin om te weet watter deur sluit ek oop en watter moet gesluit bly.

Waardes soos respek, omgee en integriteit is sleutels waarmee ek ’n paar deure sal kan oopsluit. ’n Sleutel soos bitterheid veroorsaak natuurlik dat ek ’n deur oopsluit waar slegte goed na vore kom.

Hier praat ek sleg van mense, vloek, haat, onttrek myself – en ander moet sien en kom klaar, net omdat ek bitter is oor wat iets wat iemand gedoen of gesê het, of nie gedoen het nie. Dit lyk vir my dit is ’n deur wat ek moet sluit.

Met vergifnis sluit ek deure oop, maar met onvergewensgesindheid sluit ek deure toe.

In jou huis het jy sleutels wat jou kinders kan gebruik om wonderlike deure oop te sluit. So kan jy hulle leer van respek, maar ook ’n eenvoudige ding soos: om nie fiemies aan die etenstafel te hê nie.

Leer hulle ook om hard te werk. Dit sluit vir hulle deure oop wat hulle sal seën, geliefd sal maak.

Maar jy het ook sleutels waarmee jy die drankkabinet oopsluit, die deur na oneerlikheid, die deur van geweld, slegtigheid en kerkloosheid.

Hierdie deure lei jou kinders se pad na die grootmens­wêreld. As pa drink, kan ek ook; as my ouers nie kerk toe gaan nie, hoef ek ook nie. As my ouers partytjies, dwelms en drank verkies bo werk, gaan dit ook my manier van doen word. Ouers, julle het ’n verantwoordelikheid met die sleutels in jul hande. Watter sleutels gee jy vir jou kinders?

Ook in die werksplek en sosiale kringe het ek sleutels.

Die geheim is: Elke sleutel waarmee ek ’n deur oop of toe sluit, moet God verheerlik.

Geloof in Jesus sluit die deur na die ewige lewe oop. Nie hoe goed of sleg jy is nie, nie hoe ryk of arm jy is nie. Nie hoe suksesvol of hoe ’n groot mislukking jy is nie.

Jou geloof is die sleutel. Mag jy daardie deur oopsluit.

Ek bid vir onderskeidings­vermoë sodat jy weet watter deure jy moet oopsluit en watter deure moet jy toesluit.

  • Ds. Christo Nel is van die NG gemeente Riebeeckstad.

You need to be Logged In to leave a comment.