Vyf jong sjefs van Welkom-Gimnasium het met toppryse, insluitend dié van die algehele tweede plek, in die Food and Beverage Institute (FBI) se skoolsjef van die jaar-kompetisie weggestap.
Die eindronde van dié gesogte kookstryd is op 30 Julie by die FBI-sjefskool in Bloemfontein gehou.
Gimmies het die eindronde oorheers, nadat dié leerlinge regdeur die kompetisie ’n hoë peil gehandhaaf het.
Dit is ook die enigste skool in die geskiedenis van die kompetisie wat 11 finaliste in dieselfde jaar opgelewer het. Welkom-Gimnasium is die skool wat die afgelope 15 jaar die meeste suksesvolle inskrywings gelewer het.
Helené Rossouw, onderwyser aan die skool, sê sy is baie dankbaar vir die geleentheid wat FBI Bloemfontein die leerlinge bied.
“Die beurse wat ons kinders wen, maak deure vir baie van hulle oop om verder in die wêreld van kosmaak te gaan studeer,” sê sy.
“Dit vat baie voorbereiding en oefening van leerlinge en onderwyseres om die hoë peil wat die Gimmies lewer te handhaaf.”
Rossouw sê buiten die ses pryse wat die Gimmies losgeslaan het, het hulle beslis die top tien oorheers.
Armand Snyman het die algehele tweede plek behaal, Ruhan Young is as die jong sjef wat die beste tydhouer aangewys, Boikanyo Motswiri is bekroon vir beste higiëne, Michaela du Plessis het die beste nagereg voorgesit en Kaylee van Niekerk het met die beste hoofgereg ’n prys losgeslaan, asook die beste inskrywing op papier.
“Daar is jong oud-Gimmie-sjefs wat deur dié kompetisie beurse gewen het en uiteindelik by die FBI gaan studeer het. Daar is nou onder meer ’n oud-Gimmie sjef in Florence, Napels, een by die Mills-hotel in Londen en ook by die Protea-hotel Kaapstad,” sê Rossouw.